Monique en Christo is hoërskoolliefdes wat sewe jaar saam was voordat Christo “Die Groot Vraag” gevra het tydens ‘n vakansie in Thailand. Jilda G Photography het hierdie pragtige fotosessie met hulle gedoen. Ons sien uit na die troufoto’s, julle twee…
‘n Bietjie meer inligting oor die toekomstige bruid…
“Ek is 23 jaar oud en ‘n onderwyser. Ek woon in Gordonsbaai, naby Somerset-Wes en Stellenbosch. Ek wil trou want ek en my verloofde is al baie lank saam. Ek kan nie my lewe saam met iemand anders in dink nie. Hy is my eerste en laaste liefde.”
‘n Bietjie meer inligting oor die toekomstige bruidegom…
“Ek is 23 jaar oud en ook ‘n onderwyser. Ek bly in die Strand, wat naby Somerset-Wes en Stellenbosch is. Ek wil trou want ek is 100% seker dat sy my lewensmaat is. Ek wil langs haar wakker word elke oggend. Ek speel sport en sy ondersteun my altyd. Ek weet dat ek altyd op haar kan staat maak.”
Hoe het julle ontmoet?
“Ons het ontmoet op Hoërskool. Ons was saam in dieselfde klas vanaf graad 10 tot matriek.”
Hoe lank was julle saam voor die verlowing?
“Baie, baie lank! Ons is al saam vanaf graad 10. Ons was 7 jaar saam voordat verloof geraak het.”
Vertel ons hoe julle verloof geraak het.
“Ons het vir my ouers ( Monique se ouers ) in die Junie skoolvakansie in Thailand gaan kuier. Hulle is onderwysers daar. Ons het vir die laaste paar dae van ons vakansie Phuket toe gegaan. Ons was vir ‘n dag-avontuur op ‘n boot na die baie mooi Phi-Phi eilande. Ons het daar die mooiste klein eilande besoek en gesnorkel, geswem en vreemde kosse probeer. Opad terug op die boot, het ek ewe skielik Christo se stem op die Kaptein se interkom gehoor. Christo het toe vir almal op die boot vertel oor hoe ons ontmoet het en hoe lank ons al saam is en dat hy graag wil oud word saam met my ( ek kan nie veel onthou nie – ek was net in trane ek kon nie glo dat my droom gaan word om met hom te kan trou nie ). Christo het my toe gevra om met hom te trou ( In ENGELS! ) Dit was baie romanties, het nooit dit verwag nie.”
Hoe lank na die verlowing het julle gekies om te trou en hoekom?
“Ons het omtrent dadelik begin beplan aan datums en venues toe ons terug is van vakansie. Ons het geen benul hoeveel ‘n troue kan kos nie, en het besluit om saam geld te spaar. Ons het besluit op Desember 2012, want dan het ons redelik genoeg gespaar ( Onderwysers se salarisse is nie baie groot nie ) en die weer is dan ook lekker en ons wil graag ‘n somer troue hê. Omdat ons onderwysers is moes ons ons troue beplan sodat dit in ‘n vakansie kan plaasvind. Ons wil graag lank wittebrood gaan hou, so Desember is perfek! Dit is nog so lank voordat ons trou, maar dit is die moeite werd om so lank te spaar. Ons wil ‘n onvergeetlike dag hê. Na 7 jaar se wag wil ons net die beste hê vir die spesiaalste dag van ons lewens en ‘n nuwe hoofstuk in ons lewens.”
Vertel ons ‘n bietjie meer van jul fotosessie.
“Ek en ‘n vriendin het die Spier Bridal Fair gaan besoek en het vir ‘n klomp kompetisies ingeskryf. En WOW… ek het ‘n verlowings-fotosessie gewen by Jilda Gildenhuys! Het nog nooit iets gewen in my lewe nie! So die verlowingsfotosessie was baie spesiaal vir ons.
Die fotosessie was onvergeetlik! Ons was eers baie angstig aan die begin, maar Jilda het ons baie gemaklik laat voel. Ons het baie vir mekaar gelag, want ‘n mens moet liefdevol en natuurlik wees met mekaar terwyl jy weet iemand kyk vir jou en neem foto’s. Dit was ook baie snaaks om die foto’s te neem, want ek is baie korter as Christo. Die lekkerste was om foto’s te neem in ‘n waterstroompie met ons waterboots. Die plek waar die foto’s geneem was, was by The Magic Forest naby Durbanville. Ons was nog nooit daar nie. Jilda het dit aan ons voorgestel en dit is ‘n pragtige plek vir fotosessies. My hare en grimering was verniet deur ‘n goeie vriendin, Candice Harker, gedoen. Sy is ‘n professionele grimeer-kunstenaar.”
The post Monique en Christo: Betowerende Liefde appeared first on South Africa Wedding Blog.